Laat gaan

Inleiding

Wanneer ʼn babatjie gebore word is een van die dinge wat nuwe mammas geleer word om hul babatjies styf toe te draai wanneer hulle neergelê word om te gaan slaap, sodat hulle amper nie kan beweeg nie. Hierdie tegniek laat hulle veilig voel en herinner aan die baarmoeder waarin hul beweeg ruimte baie beperk was. Van babajare het die kind grense nodig waarin hy/sy kan beweeg. Indien die grense te ver uitmekaar is, as hulle klein is, voel hulle onveilig, maar indien die grense nie saam met hulle groei nie en steeds te klein is as hulle groter word, voel hulle ingehok en word hulle opstandig of passief. Die doel van kinders grootmaak is opgesluit in die woord – hulle moet groot word. Nie net fisies nie, want dit is ʼn gegewe, maar ook geestelik, verstandelik en emosioneel. Die einddoel is dat hulle as gelowiges die huis sal verlaat om tot eer van God die wêreld te betree. Daardie dag behoort geen ouer onverwags te betrap nie, want van geboorte af is dit die plan en die ouer moet die kind stelselmatig toerus om uiteindelik onafhanklik te wees.

Bestuur

Baie ouers weet nie hoe om die grense van kinders te bestuur nie. Hulle het geen idee wat hulle vir hulle kinders wil hê nie, behalwe dat hulle gelukkig moet wees en verkieslik nooit die huis moet verlaat nie. Hulle is gelukkig as hulle kind dertig is en nog steeds in die huis bly. Mamma is maar te bereid om nog steeds boetie se wasgoed te doen en sy kos te maak. Selfs sy bed word nog opgemaak. Die kind het geen verantwoordelikhede buite die feit dat hy/sy gelukkig moet wees nie. Ons kry ook die teenoorgestelde van ouers wat hulle kinders voorregte en of verantwoordelikhede gee waarvoor hulle nog glad nie gereed is nie. Ons vind jong lewens wat op die rotse verwoes word, aangesien hulle vrye teuels gegee en sodoende aan dinge blootgestel word  wat hulle nie kan hanteer nie. Ek dink baie keer aan soveel kinders wat blootgestel is aan koshuise, op ouderdomme so jonk as 5 en 6 jaar. Was hierdie kinders enigsins opgewasse om hierdie fase te trotseer. Die antwoord is ʼn besliste nee. Spreuke 29:15  Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande. Hulle het hulle beddens nat gemaak en op meer as een manier geleer om alle emosies onder die kombers weg te steek. Baie het hard geword om sodoende hulself van die buite wêreld te beskerm. Hulle moes nog op hierdie ouderdom onder die streng leiding van hul ouers groot geword het wat omgee en onmiddellik kan optel wanneer daar iets skort. In die vorige bedeling was baie hiervan noodgedwonge, maar vandag, met tuisonderrig programme en die internet is dit totaal onnodig. Vandag vind dit baie plaas, omdat ouers die begeerte het om hul kinders in gesogte, hoë profiel skole te sit. Hieroor wil mens nie wetties wees nie en die grense moet verseker kan verskuif soos wat die kind groter word. Die ekstreme is na albei kante toe en ons kry ouers wat nie eers wil toelaat dat hul kinders die huis verlaat om universiteit toe te gaan nie. Ouers moet te alle tye seker maak dat die einddoel, die visie, duidelik is. Hoekom het God hierdie kind vir my gegee? Om by jou te wees en die middelpunt van jou wêreld te wees? Verseker nie. Die Woord is duidelik. Maleagi 2:15  Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ‘n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie. God soek ʼn goddelike geslag. Mans en vroue wat goddelike lewens sal lei, sal trou en kinders sal hê. Kinders wat weer die wêreld sal ingaan met dieselfde roeping.

Verantwoordelikhede

Sonder weerstand ontwikkel spiere nie. Om hierdie rede word kinders nie die heeltyd rondgedra en alles vir hulle gedoen nie. Nee, stelselmatig sal jou babatjie groei en begin opstaan. Hy/sy sal gereeld val en weer opstaan. Dit is die lewe. Indien jy nooit hierdie natuurlike proses gaan toelaat, omdat jy bang is jou kinders kry seer nie, gaan jou kind nie groei nie. Dit geld vir elke faset van sy lewe. Kinders moet van jongs af verantwoordelikhede geleer word en uitgedaag word om moeilike dinge self aan te pak. In die begin is die take baie klein en met die tyd word die verantwoordelikheid baie groter. Die voorskoolse kind  word geleer hoe om sy/haar bed op te maak en dan word dit een van hul verantwoordelikhede om toe te sien dat hul bed opgemaak is voordat hulle hul kamer in die oggende verlaat. Hulle word geleer om vir hulle diere te sorg of as hulle nie diere het nie, die plante nat te gooi. Hier word hulle geleer om sorg te dra vir iets wat lewe met die wete dat hul sorg bepaal of iets gaan floreer of kwyn. As kind was een van die grootste pakslae wat ons as seuns ontvang het toe my pa die een oggend gesien het ons diere se voer bakke is leeg en hulle het geen skoon water nie. So leer die kind verantwoordelikheid vir iemand/iets anders as hom/haarself.

In die Bybel se tyd vind ons dat kinders op jong ouderdomme alreeds na die vee moes omsien. Dawid is hier vir ons ʼn voorbeeld. Dawid was een van agt seuns. Toe Samuel deur die Here gestuur is om ʼn koning te salf het hy by Isai, die vader van Dawid, se huis aangekom. Nadat sewe van Isai se seuns voor Samuel verskyn het vra Samuel of daar nog ʼn seun is. 1Samuel 16:11  Verder het Samuel aan Isai gevra: Is dit al die seuns? En hy sê: Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op. Toe sê Samuel aan Isai: Stuur en laat hom haal, want ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy hier kom nie. Dawid was van jongs af vertrou om die skape op te pas. Ons weet dat God, in hierdie alledaagse taak, alreeds vir Dawid voorberei het vir die groot take waarvoor hy bestem was. Sy eerste taak was om Goliat te verslaan. Met die oppas van die skape is Dawid reeds voorberei sodat hy geen reus gevrees het nie, aangesien hy as skaapwagter God se sorg en voorsienigheid geleer het. Wanneer Saul, die koning, vir Dawid wil laat afsien daarvan om teen Goliat te veg, aangesien hy volgens hom nog te jonk was, antwoord Dawid hom soos volg: …U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar ‘n leeu of ‘n beer kom en ‘n stuk kleinvee uit die trop wegdra dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood. U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God uitgedaag het. 1Samuel 17:34-36. As jou kinders klein is weet hulle baie keer nie van al die moeilike tye en krisisse in die huis nie. Hoe ouer hulle word hoe meer moet hulle deel gemaak word van die moeilike besluite wat geneem word, aangesien hulle leer om saam met die ouers te bid en te sien hoe God hulle ouers begelei en uitkoms gee in moeilike tye. Van die grootste lewenslesse word juis in die moeilikste tye geleer.

Moenie vir jou kind alles wat sy/haar hart begeer op ʼn skinkbord gee nie en laat hulle werkies in en om die huis verrig wat gepas is vir hul ouderdom. Spreuke10:5  Hy wat in die somer wegbêre, is ‘n verstandige seun; hy wat vas slaap in die oestyd, is ‘n seun wat skande maak.

Vertrou God

Een van die moeilikste dinge vir enige ouer is sekerlik om jou kind te laat gaan. Jy onthou dalk hoe moeilik dinge vir jou was en die ontberings en struikelblokke wat jy moes oorkom toe jy as jongmens die huis verlaat het. Ons wil dit dikwels vir hulle makliker maak, maar dit is juis in swaarkry wat jy geleer het om te waardeer wat jy het. Die belangrikste ding om te onthou is dat jy God kan vertrou met die lewe van jou kind. God het hom liewer as wat jy ooit vir hom/haar kan wees en sal sy/haar lewe rig, net soos wat Hy joune gerig het.

In die Bybel se tyd en tot so min as vyftig jaar terug het jongmense op vroeë ouderdomme die ouerhuis verlaat. Dit was beskou as die normale verloop van die lewe. Die verhaal van Rebekka is ʼn voorbeeld van hoe hierdie proses gewerk het. Abraham het sy dienskneg gestuur om vir sy seun ʼn vrou te soek onder sy eie mense. Die dienskneg bid tot God om hierdie taak voorspoedig te maak en vir hom te wys wie die vrou vir Isak sou wees. Hy het skaars klaar gebid toe Rebekka by die put kom waar hy gesit het. Watter flukse jong dame vind ons nie in Rebekka nie. Om te sorg dat al sy kamele water kry was geen geringe taak nie, aangesien daar tien kamele was en ons weet dat elke kameel ongeveer 100 liter water sou gedrink het. As jy dink dat sy die water uit die put moes optrek kry jy beslis ʼn idee watter groot taak dit moes gewees het waarvoor sy, sonder om te skroom, haarself aangebied het. Die volgende dag sou sy saam met hierdie vreemde man gaan om haar voorgenome man te gaan ontmoet. Sy word deur haar familie gevra of sy bereid sou wees om hierdie ver pad weg van haar familie aan te pak en met hierdie vreemde man te gaan trou. Genesis 24:58  En hulle het Rebekka geroep en haar gevra: Wil jy met hierdie man saamgaan? En sy antwoord: Ja. Sy sou nooit weer haar familie sien nie.

Timotheüs was ʼn seun wat in ʼn goddelike huis groot geword het. Luister hoe Paulus van Timotheüs getuig. 2Timotheus 1:5  en as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Euníce, en wat—daarvan is ek oortuig—ook in jou is. Hy was van kleins af al grootgemaak met die Skrifte en daarom kon Paulus, nou as ʼn ouman, ʼn oproep op hom maak om te bly in dit wat hy geleer het. 2Timotheus 3:14-15  Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Dit herinner ons ook aan die belofte wat God maak in Spreuke. Spreuke 22:6  Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie. Hoe wonderlik was dit nie dat hierdie man op ʼn jong ouderdom die Skrifte geken het nie. ʼn Ma en ouma het een doel voor oë gehad met klein Timotheüs se opvoeding en dit was dat hy God sou leer ken. Hierdie opvoeding sou beslis tot ʼn groot aanwins wees in die bediening wat God vir Timotheüs gehad het en in die span waarin God hom sou plaas om gemeentes te help oprig en versterk. Enkele maande na sy roeping om saam met Paulus te reis, vind ons hom waar hy alleen saam met Silas die gemeente in Tessalonisense bedien. ʼn Paar jaar later sou hy alleen gestuur word na Tessalonisense om die gemeente te versterk. Op hierdie stadium kan ons deur briewe wat Paulus geskrywe het aflei dat Timotheüs nog ʼn baie jongman was. In die brief wat Paulus aan Timotheüs skrywe en onder andere vir hom riglyne gee hoe ʼn ouderling en diaken se lewens moet lyk, vind ons dat Timotheüs nog  ʼn baie jong man was. 1Timotheus 4:12  Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid. Nie net was Timotheüs ʼn jongman in die begin van sy bediening nie, maar dit is ook duidelik dat hy nie ʼn gesonde jongman was nie. 1Timotheus 5:23  Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ‘n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede. Hierdie jongman het onder Paulus verdere opleiding ontvang en het besef dat jou fisiese gesondheid en toestand nooit ʼn verskoning is om vir die Here ʼn getuie te wees nie. Hulle was beslis gereed om hulle liggame as ʼn offer aan God te gee. Romeine 12:1  Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.

So kry ons deur die geskiedenis talle jong mense wat in diens van God hul ouer huise verlaat en op God alleen vertrou het om te gaan sendingwerk doen. Die verhaal van Adoniram Judson is so ʼn verhaal. Hy sou sy lewe gee sodat die mense van Burma die evangelie sou hoor. Hy ontmoet ʼn dogter van ʼn diaken wat hom genooi het nadat hy gehoor het dat hy sendingwerk sou gaan doen. Adoniram ontmoet hierdie jong dame en weet onmiddellik dat sy die vrou is wat hom kan help in die goddelike werk waarvoor God hom bestem het. Hy besluit om ʼn brief aan haar vader te rig waarin hy sy toestemming vra om met sy dogter te trou. In die brief maak hy dit duidelik dat hy na ʼn vreemde land sou gaan om sendingwerk te doen en dit heel moontlik was dat hulle nooit weer hulle dogter sou sien nie. Haar vader het hom ingelig dat dit Ann se eie besluit sou wees. Sy het ingestem. (Herinner ons aan Rebekka) Hulle was ongeveer 22 en 23 jaar oud onderskeidelik. Sou hierdie vader in vrees vir sy dogter se lewe geweier het om haar te laat gaan? Is jy ʼn ouer wat in vrees weier om jou kind te laat gaan?

Slot

Ann Judson sou vroeg sterf en so ook al haar kinders. Sy is egter grootgemaak met een taak voor oë: om God te dien en te verheerlik. Indien jy jou kind grootgemaak het met hierdie missie in die lewe, maak dit nie saak wat die wêreld buite jou huis vir hom/haar inhou nie. God is in beheer en jy moet jou kind laat vlieg om te doen dit waarvoor jy hulle grootgemaak en God hulle geroep het.

Lewer kommentaar