Inleiding tot Openbaring

Inleiding

Openbaring is die laaste boek in die Bybel, die onfeilbare Woord van God, wat geskryf is om God aan sy kinders te openbaar. Dit is geskryf vir die Kerk deur alle eeue en as sulks ook vir jou en vir my. Baie mense skram weg van die lees van Openbaring omdat hulle dit sien as ʼn misterieuse boek wat net deur die hoogste teologiese akademici verstaan kan word. Hierdie opvatting is totaal verkeerd. Die belangrikste om te onthou is dat Openbaring geskryf is aan die Kerk ,deur alle eeue, wat deur lyding en vervolging sal gaan sodat hulle altyd in gedagte moet hou dat die oorwinning reeds behaal is en dat elke gelowige aan die kant van die oorwinnaar staan. Openbaring 1:1 sê: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.”  

Oorwinning

Een van die gevare vir gelowiges is dat hulle moedeloos sal raak, asof hulle die stryd nie sal kan wen nie. Wanneer hulle met fisiese oë na die wêreld kyk, lyk dit of Satan die oorwinning behaal het, aangesien die Kerk klein en die gelowiges in die minderheid is. Jesus bevestig ook male sonder tal dat die gelowiges altyd ʼn minderheid sal wees. Wanneer Jesus aan sy volgelinge die gelykenis vertel van die weduwee wat by die regter gepleit het totdat aan haar reg bewys is, vra Jesus of dit aan die einde, as hy weer terug kom, ook waar sal wees dat gelowiges nog steeds sal pleit dat aan hulle reg bewys moet word. Lukas 18:8  Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?  Dit word aan ons geopenbaar dat hierdie pleidooi aan God steeds aangaan, selfs as gelowiges in die Hemel is. Openbaring 6:9-10  En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?  Al is die gelowiges in die minderheid en al pleit hulle daagliks voor God om reg aan hulle te laat geskied, word hulle in Openbaring vir ʼn oomblik in die Hemel geneem en sien hulle die gebeurtenisse vanuit ʼn Hemelse perspektief. Ons vind God wat op die troon sit en heerskappy voer oor alles wat op aarde plaasvind. Die duiwel en sy magte is klaar oorwin en uit die Hemel gegooi en hulle aanvalle op ons is die laaste doodsnikke, omdat hulle besef dat hulle tyd min is.

Vir wie?

Dit is eerstens belangrik om vir mekaar te sê dat Openbaring vir alle gelowiges deur alle eeue geskrywe is. Dit moes vir die sewe gemeentes waarvoor Johannes geskrywe het as die eerste hoorders, net soveel beteken as die gelowige man en vrou van die 21ste eeu – ek en jy. Luister wat die Heilige Gees deur Paulus skrywe in 2Timotheus. 2Timotheus 3:16-17 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. Openbaring is deel van die Skrif en moet dus daar wees dat die man en vrou van God deur alle eeue volkome toegerus kon en steeds kan word. Hoe nader ons egter aan die terugkeer van Christus kom, hoe meer duidelik en intens sal die beelde en die volheid van Openbaring deur die gelowige waargeneem word. Alles wat in hierdie boek opgeteken staan sal dus nie deur elke geslag ervaar word nie. Ons weet so byvoorbeeld dat deur alle tye daar antichriste was en sal wees. 1Johannes 2:18-19  Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie. So weet ons dat die Antichris uit die kerk sal kom en dat daar deur die geskiedenis al baie antichriste uit die kerk gekom het. Baie teoloë het in hul tyd na manne gewys as tipes antichriste. Dit is ook duidelik dat die Satan nie weet in watter tyd Christus weer sal terugkom nie, omdat Jesus dit in sy tyd op aarde duidelik gemaak het dat net die Vader die tye weet. Mattheus 24:36  Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. Daarom sal die Satan ten alle tye die Antichris wil oprig soos wat in Openbaring beskryf word, maar hy sal nie toegelaat word nie totdat God se tyd in vervulling gaan. Openbaring verseker ons van die opstaan van die finale Antichris wat sal doen dit waarna die Skrif verwys.

Tyd

Daar is deur die geskiedenis baie geskrywe oor die tydperk waarin hierdie boek geskrywe is. Die meeste teoloë wat die boek dateer voor 70 n.C. se datering het meer te make met hul teologie as met die skrywer en die boek Openbaring self. As dit voor 70 n.C. geskrywe is kan hulle alles in die boek laat heenwys na die vernietiging van die tempel en die straf van die Joodse volk. Die latere datering, waaroor die meerderheid eens is,  is ongeveer 95 n.C. Die grootste probleem wat ek met die vroeë datering het is dat die gemeentes wat genoem word in die begin van Openbaring, gemeentes was wat Paulus en sy medewerkers bedien het. Die verval van vyf van hierdie gemeentes dui op ʼn latere datum aangesien niks in Paulus se briewe na hul verval verwys nie. Laodisea word ook beskryf as ʼn ryk stad, terwyl ons weet dat dit totaal deur ʼn aardbewing vernietig is in 60-61 nC. Dit sou nie binne tien jaar opgebou kon word tot ʼn ryk stad nie.  Nog ʼn belangrike oorweging vir die bepaling van die datum lê in wat die vroeë kerkvaders gesê het oor hierdie tydperk. Irenaus en Eusebius skrywe dat dit tydens die wrede keiser Domitian se heerskappy geskrywe is, dus ongeveer 95 n.C. Domitian het baie gelowiges vermoor en was die eerste keiser wat aanspraak daarop gemaak het dat mense hom moes aanbid. As ons dit weet, maak baie van dit wat gesê word oor die aanbidding van die beeld van die Antichris sin, aangesien hierdie gemeentes waarvoor Johannes skrywe, dit fisies ervaar het. Vir my is dit nie van kandinale belang wanneer dit geskrywe is nie. As ons teologie staan of val op ʼn datering het ons ʼn probleem. As ons egter na die teks gaan kyk in die lig van die res van die Skrif sal ons dit beslis as ʼn openbarings moment ervaar.

Ou Testament

Daar is geen manier vir die leser van Openbaring om die boek te verstaan sonder ʼn goeie verstaan van die Ou Testament nie. Ongeveer 70% van alle aanhalings in Openbaring kom voor in die Ou Testament. Voor ons dus ʼn beeld of verwysing in Openbaring kan verduidelik het ons nodig om dit in die Ou Testament te gaan bestudeer. Baie beelde in Openbaring is beelde vanuit verskillende gedeeltes uit die Ou Testament wat saamgevoeg word. Daar word dus van elke leser  verwag om die Ou Testament te ken. So baie keer het ek al genoem dat Paulus se briewe, onder leiding van die Heilige Gees, vol is van die Ou Testament en dat, indien jy Paulus met ʼn mes sou steek, hy die Ou Testament sou bloei. Soveel te meer sou dit waar wees van Johannes se skrywe van Openbaring onder leiding van die Heilige Gees. Enige gelowige wat die Ou Testament afskeep doen dit tot sy eie nadeel.

Doelwit

Daar sal in hierdie blog nie probeer word om alle standpunte aangaande elke gedeelte te bestudeer en te evalueer nie. Ek sal wel, waar nodig, na verskillende standpunte verwys, terwyl ek my eie standpunt huldig en verdedig. Meer belangrik sal wees wat ons as gelowiges as waarskuwing en/of inspirasie moet neem uit die gegewe teksgedeelte.

Die doel van hierdie blog is om gelowiges te help om die boek Openbaring beter te verstaan deur die oorspronklike Griekse teks en die Ou Testament te bestudeer. Ons sal die teks vers vir vers deurgaan, konteks en simboliek verduidelik, en toepassings vir ons lewe vandag uitlig.

In hierdie studie sal ons ‘n teks-gebaseerde benadering volg, waar ons die oorspronklike Griekse teks van Openbaring analiseer en kruisverwysings na die Ou Testament gebruik om simboliek en verwysings beter te verstaan. Ons sal ook kyk na die historiese konteks, soos verstaan deur vroeë Christene en die Apostoliese Vaders. Hierdie blog sal opgedeel wees in verskeie dele, elk gefokus op ‘n spesifieke hoofstuk of gedeelte van Openbaring. Elke deel sal begin met ‘n teksuitleg, gevolg deur ‘n bespreking van die simboliek en konteks, en eindig met toepassings vir vandag se gelowiges.

Slot

Ek hoop hierdie inleiding sal jou opgewonde maak om saam  ‘n dieper en ryker begrip van die boek Openbaring te verkry. Ons begin hierdie reis in die hoop en gebed dat die Heilige Gees ons sal lei en verlig terwyl ons hierdie diepgaande en uitdagende boek bestudeer.

Lewer kommentaar