Openbaring 1:7-16

Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen! Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom, sê die Here God, die Almagtige. Ek, Johannes, julle broer en ‘n deelgenoot in die verdrukking, en in die koninkryk, en in die volharding in ons verhouding met Jesus, was op die eiland wat Patmos genoem word, op grond van die woord van God, naamlik die getuienis deur Jesus Christus. Op die dag van die Here het die Gees van my besit geneem, en het ek agter my ‘n harde stem, soos dié van ‘n basuin, gehoor wat sê: Skryf wat jy sien in ‘n boekrol op, en stuur dit aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea. Ek het omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Toe ek omdraai, het ek sewe goue kandelare gesien, en in die middel van die kandelare, iemand net soos die Seun van die Mens. Hy het ‘n kleed wat tot op die voete hang, gedra, met ‘n goue band wat om sy bors vasgebind was. Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vlammende vuur. Sy voete was net soos gloeiende koper in ‘n rooiwarm oond, en sy stem soos die gedruis van baie waterstrome. In sy regterhand het hy sewe sterre gehou, uit sy mond het daar ‘n skerp swaard met twee snykante gekom, en sy gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn.

Deurboorde Heerser

In vers 7 word aangetoon dat Christus heerskappy het oor alles en dat Hy weer gaan terugkeer na die aarde, maar hierdie keer triomfantlik. Die wat Hom deurboor het (m.a.w. diegene wat Hom gekruisig het) het sal oor Hom rou. Hierdie is ʼn aanhaling van Sagaria. Sagaria 12:10 Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek ‘n gees van genade en ‘n gesindheid van smeekgebede uitstort. En hulle sal kyk na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor hom rou soos ‘n mens rou oor ‘n enigste seun, en hulle sal bitterlik huil soos ‘n mens huil oor ‘n eersgebore kind. Hier word dus spesifiek na die Joodse volk verwys wat verantwoordelik was dat die Messias gekruisig is. Die vraag kan maklik gevra word of dit nie die Romeine is wat hom deurboor het nie? Die Woord is duidelik dat die Jode verantwoordelik gehou word aangesien hulle Hom oorgelewer het. Daarom, as Petrus op pinksterdag met die Jode spreek, verkondig hy aan hulle dat hulle skuldig is omdat hulle Christus oorgelewer het om doodgemaak te word. Handelinge 2:23 Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. Die profetiese uitspraak van Sagaria is dus vervul met die soldaat wat sy swaard in Jesus se sy gesteek het om seker te maak dat Hy dood is. Net so sekerlik sal die profesie van Jesus se terugkeer vervul word en al die geslagte van die aarde sal oor hom rou.  Dit sal later in Openbaring duidelik word dat dit nie a.g.v. ware sonde berou sal wees nie, maar eerder a.g.v. vrees. Die Jode daarenteen sal soos Sagaria aantoon en waarna Openbaring ook verwys tot inkeer kom in daardie finale oomblikke.

Alles is onder Sy beheer. Daarom verklaar Jesus, as die Here God, hier aan Johannes dat Hy die Alpha en die Omega is. In Afrikaans sal ons sê Hy is die A en die Z, die begin en die einde. Hierdie aanhaling word drie keer in Jesaja gebruik. Luister gerus na een van die aanhalings uit Jesaja. Jesaja 44:6 So sê die Here, die Koning van Israel, die Een wat hom loskoop, die Here, Heerser oor alle magte: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste. Buiten My is daar geen God nie. Alles het sy ontstaan in Hom en alles sal tot ʼn einde gebring word deur Hom. Hy wat skep is ook die Een wat verwoes. Die gedeelte wys ook duidelik dat Jesus wat weer gaan terugkom, God is, aangesien Jesus homself aan Johannes en die leser bekend stel met dieselfde titels as die God van die Ou Testament. Ons God is nie soos die gode van die ander volke nie. Elia op die berg Karmel dryf die spot met die afgode waarop die profete van Baal vertrou. 1 Konings 18:27 Teen die middag het Elia hulle gespot en gesê: Roep harder, want hy is mos ‘n god! Hy is dalk ingedagte, of hy sonder hom af, of is op pad. Dalk is hy aan die slaap en moet wakker word. Die woord vir “sonder hom af” het te make met toilet toe gaan. Elia spot hulle omdat hulle gode nie antwoord nie en dat hulle menslike verskonings sou moes gebruik om dit te probeer verduidelik. So selfs al sou hulle wou redeneer dat hul gode lewe, sou hulle moes erken dat hulle niks anders as gewone mense is nie. Daarteenoor is ons God nie net lewendig nie, maar is Hy ver verhewe bo enige menslike beperkings. Watter vertroosting moes dit nie vir die lydende kerk wees en is dit nie steeds vir elke gelowige nie?

Liggewende Gees

Hierdie Johannes wat die brief skrywe, is hulle en ons broer wat ook aan lyding onderworpe is, as ʼn uitgeworpene en gevange op ʼn eiland met die naam Patmos. Lyding is normaal van broers in Christus. 2 Timoteus 3:12 Almal wat godvresend in Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word. Ten spyte hiervan is die gemeente vertroos aangesien Jesus Christus wandel in die middel van die kandelare, wat die gemeentes verteenwoordig. Die goue kandelare verwys na die Ou Testamentiese kandelare wat in die tempel gestaan het. Dit is gebruik sodat daar lig in die heiligdom sou wees waar die priesters gewerk het. Hierdie lig sou dag en nag gebrand het. So sou elke gemeente ook ʼn lig wees wat in die wêreld waarin hulle geplaas is sou brand. Johannes wys ons baie duidelik in die evangelie dat Jesus die lig is wat na die wêreld gekom het. Johannes 1:5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit  nie uitdoof nie. Net so sou sy volgelinge ook ʼn lig wees wat skyn in ʼn duister wêreld. Hierdie gedeelte wys ook na Sagaria se profesie. Sagaria 4:2 Hy het my gevra: “Wat sien jy?” En ek het geantwoord: “Ek het gesien: Kyk, daar was ‘n menora van soliede goud. Bo-op was ‘n oliebak met sewe lampe, elkeen met sewe tuite. In hierdie profesie word dit aangetoon dat niks kan gebeur sonder die werking van die Heilige Gees nie. Sagaria 4:6 Toe het hy geantwoord en vir my gesê: “Dit is die boodskap van die Here aan Serubbabel, ‘Nie deur mag of deur krag nie, maar deur my Gees,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. Sou die Kerk staande kon bly te midde van al die aanvegtings en aanvalle en lyding in hierdie wêreld?  Die antwoord is duidelik dat dit slegs sou staande bly deur God wat die Kerk vashou. Die vuur op die kandelare wat die lig gee is die Heilige Gees. Daarom wys die gesig wat Johannes sien dat God in die midde van die kerke is. Die een tussen die kandelare word geïdentifiseer as die Seun van die mens. Hierdie is die titel waarmee Jesus homself die meeste geïdentifiseer het. Die titel kom uit die boek van Daniel. Daniël 7:13-14 Ek het in die nagtelike visioene gesien: Kyk, met die wolke van die hemel was iemand aan die kom wat soos ‘n mensekind was; tot by die Oue van Dae  het hy gekom, voor Hom is hy gebring. Aan hom is heerskappy, eer en koningskap gegee – alle volke, nasies en taalgroepe dien hom. Sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie verby sal gaan nie, en sy koningskap is so dat dit nie vernietig sal word nie.

Die seun van die mens

Hierdie Seun van die mens gaan nou beskryf word en elkeen van hierdie beskrywings sal weer gebruik word in ʼn spesifieke boodskappe aan elke gemeente.

  • Hy het ‘n kleed wat tot op die voete hang, gedra, met ‘n goue band wat om sy bors vasgebind was.

Die kleed herinner aan die hoëpriester se kleed en sal ook gebruik word vir die beeld van die engele in die tempel in die Hemel wat hierdie kleredrag dra. Openbaring 15:6 en die sewe engele met die sewe plae het uit die tempel gekom. Hulle het blink klere van suiwer linne gedra, met ‘n goue band om die bors gebind. Jesus is dus die hoëpriester wat tussen die kerke is. In Hebreërs word Christus ook beskrywe as die laaste hoëpriester wat intree vir die gelowiges. Hebreërs 7:25-26 Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef, om ter wille van hulle in te tree. So ‘n hoëpriester was ook vir ons gepas: een wat heilig, onskuldig, onbevlek, afgesonder van die sondaars, en hoër as die hemele verhef is. Hy weet wat ons nodig het en Hy ken ons deur en deur aangesien Hy nie ver van ons af is nie, maar naby gekom het en tussen ons wandel. Matteus 28:20 …En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd. Watter gerusstelling is dit nie vir elke gelowige nie.

  • Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vlammende vuur.

Enige persoon wat die Ou Testament ken sal onmiddellik hierdie beeld koppel aan die beeld van God in Daniël. Daniël 7:9 Ek het gekyk totdat trone opgestel is, en ‘n Oue van Dae plaasgeneem het. Sy kleed was wit soos sneeu, die hare van sy hoof soos suiwer wol. Sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan vlammende vuur. Nie net word Christus in Openbaring geïdentifiseer met die Seun van die mens in Daniël 7 nie, maar ook met die Oue van dae. Hoe iemand Openbaring kan lees en nie kan glo dat Christus waarlik God is nie, gaan my verstand te bowe. Die oë van vlammende vuur is ʼn aanhaling van Daniel 10. Daniël 10:6 Sy liggaam was soos chrisoliet en sy gesig het gelyk soos weerlig, terwyl sy oë soos fakkels van vuur was, en sy arms en voete soos gepoleerde brons geskitter het. Die geluid van sy woorde was soos die geluid van ‘n menigte. Hierdie woorde beskryf die engel wat aan Daniël die boodskap van God se verlossing van sy volk bring.  Die oë wat soos vlammende vuur is wys op God wat sal wraak uitoefen op die volkere wat Israel in Ballingskap weggevoer het en onder wie hulle sou ly. Die verband is dus duidelik vir die Kerk van die Here dat die Een wat tussen hulle wandel sal wraak uitoefen op die goddelose mense. Hy, die Een wat alles sien.

  • Sy voete was net soos gloeiende koper in ‘n rooiwarm oond, en sy stem soos die gedruis van baie waterstrome.

Die voete soos blink koper verwys ook na die gedeelte in Daniël 10 hierbo genoem. Sy oordeel is suiwer en reg. Daar is niks onrein aan Hom of onrein wat voor Hom sal staande bly nie. Dit sal baie duidelik word by die gemeente Tiatira as hy hierdie beeld van wie Hy is aan hulle bekend maak en ons sien wat die probleem met hierdie gemeente was. Die stem soos die gedruis van baie waters is ʼn aanhaling uit Esegiël. Esegiël 1:24 Ek het die geluid van hulle vlerke gehoor. Wanneer hulle beweeg, was dit soos die geluid van baie water, soos die stem van die Almagtige, die geluid van ‘n mensemassa, soos die geluid van ‘n leërmag. Wanneer hulle stilstaan, het hulle hulle vlerke laat sak. Met nog ʼn beeld word Christus geïdentifiseer as God self. God se stem kan nie uitgedoof word nie. Sy stem is hard en duidelik. Geen persoon in die kerk sal die verskoning hê dat hulle nie geweet het nie. Elke persoon in die kerk wat voortgaan met hulle sonde doen dit tot hulle eie ondergang en finale oordeel.

  • In sy regterhand het hy sewe sterre gehou, uit sy mond het daar ‘n skerp swaard met twee snykante gekom, en sy gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn.

Die sewe sterre word ook in vers 19 beskryf as die sewe boodskappers van die sewe gemeentes. Die woord in die Grieks kan verwys na engel of boodskapper. Die rede waarom die vertaling van boodskapper verkies word is omdat die beskrywing van die boodskappers van hierdie gemeente in terme van sterre ook sy oorsprong in Daniël het. Hier in Daniël 12 word Christus se wederkoms en sy oordeel beskryf, ʼn tyd wanneer die boeke oopgemaak sal word en almal deur God geoordeel sal word. Hier word beskryf hoe die gelowiges sal lyk na hierdie oomblik van oordeel. Daniël 12:3 Die verstandiges sal skyn soos die glans van die hemelkoepel, en hulle wat baie gelei het tot regverdige optrede, sal skyn soos die sterre – vir altyd en altyd. Hierdie regverdiges was individue wat ander gelei het tot regverdige optrede, dus sinoniem met die boodskappers van Openbaring. Hulle het die Woord uitgedra in die wêreld.

Dit is die eienskap van ʼn ware gelowige, ʼn man of vrou wat Sy Woord, wat vergelyk word met ʼn twee snydende swaard, verkondig. Die beeld van die Woord as ʼn tweesnydende swaard is vanuit Hebreërs. Hebreërs 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes. Die Woord van God sny en wond die mens aan wie dit verkondig word. Niemand wat onder die geklank van die Woord kom loop weg sonder ʼn wond nie. Dit was dan ook die rede waarom die mense wat na Jesus geluister het en nie wou verander nie, kwaad weggegaan het. Elke keer was hulle bewus dat Hy hulle ontbloot het. Matteus 21:45-46 Toe die leierpriesters en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy van hulle praat. Hulle wou Hom gevange neem, maar was bang vir die skare, omdat dié Hom as ‘n profeet beskou het. Die gelowiges in hierdie gemeentes, wat die opdrag van God uitgevoer het en die Woord uitgedra het, moes weer herinner word dat Sy Woord mense óf sal kwaad maak óf individue tot inkeer sal bring. 1Korinthiërs 9:16 Want as ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my rede om my daarop te beroem nie? Daar rus immers ‘n verpligting op my, en wee my as ek nie die evangelie verkondig nie. Verder moet ons weet dat as ons die boodskappers van God se Woord is, Hy ons in sy hand vashou. Johannes 10:28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Watter gerusstelling is dit nie vir die gelowige wat ly omdat Hy God se Woord verkondig nie. Watter vooruitsig is daar vir elke gelowige as die beloning vir hierdie werk in Daniël beskrywe word dat hulle sal skyn soos sterre, vir ewig en altyd.

Slot

In hierdie paar verse word dit duidelik gemaak dat Jesus, sal terugkom as heerser – die begin en die einde. Hy is God, wat alles sien. Hy het Sy kerk kom vestig en hou dit deur sy Gees in stand. Hy is die hoëpriester wat ons ken en tussen ons woon. Hy alleen kan vir ons intree en sonde vergewe. Hy sal nie toelaat dat die lig van Sy koninkryk uitgedoof word nie en sal diegene wat Sy Woord suiwer verkondig laat skyn soos sterre vir ewig en ewig. Ongeag die lyding waardeur ons nou gaan, ons is reeds deel van Sy Koninkryk en Hy sal ons help om te volhard tot die einde.

Lewer kommentaar