Openbaring 1:1-6

“Hier volg ‘n openbaring deur Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat binnekort moet gebeur. Hy het dit aan sy dienskneg Johannes duidelik gemaak deur sy engel wat Hy gestuur het. Dit is hy wat getuig van die woord van God, en die getuienis deur Jesus Christus – alles wat hy gesien het. Gelukkig is die een wat dit voorlees, en ook hulle wat die woorde van dié profesie hoor, en vashou aan dit wat daarin geskryf staan, want die bestemde tyd is naby. Johannes, aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is; en van Jesus Christus, die betroubare getuie,

die Eersgeborene uit die dood en die heerser oor die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefhet, en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, wat ons ‘n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader – aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig. Amen.”

Inleiding

Die skrifgedeelte self kan gesien word as die inleiding tot die hele boek openbaring. Hierdie eerste gedeelte sê vir ons wat die boek is, van wie dit is, oor wie dit handel en vir wie dit geskryf is.

Die  Openbaring

ʼn Openbaring is die oopmaak van ʼn saak wat eers toe was en steeds vir die meeste mense is, maar wat nou deur ʼn persoon wat kennis aangaande die saak het oopgemaak word. In hierdie geval handel dit oor wat in die toekoms gaan gebeur. Daar is slegs een wat weet wat in die toekoms gaan gebeur en dit is God. Hoewel Jesus op aarde nie geweet het presies wanneer alles sou plaasvind nie, (Markus 13:32 Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele in die hemel nie, en ook nie die Seun nie – net die Vader.) is Hy nou, as tweede persoon van die Drie Eenheid die een wat die kennis het om aan Johannes die openbaring van die toekoms te gee. Hoewel Johannes die menslike skrywer is, is die bron dus God. Al drie die persone van die Drie-Eenheid is dus aktief betrokke om hierdie kennis aan die diensknegte van God bekend te maak. Indien jy wonder oor die rol van die Heilige Gees, weet ons alreeds dat een van Sy rolle is om die Woord aan die mens te openbaar en ons bewus te maak van komende oordeel. Sonder die werking van die heilige Gees sou dit dus nutteloos wees om die Woord te lees.

Waarna verwys die woord Openbaring. In Daniel 2, waar hierdie Griekse Woord in die LXX vyf keer gebruik word, word dit duidelik.  Daniel verkondig aan die koning dat God ʼn openbaring aan hom gegee het oor wat sal gebeur. Daniël 2:28 Daar is egter ‘n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het aan u, koning Nebukadnesar, bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur… Slegs God ken die toekoms en hier, soos in Openbaring, is Hy die een wat dit aan die mens bekend maak. Die boek Openbaring is gegee deur God en handel oor dit wat ons as mens nie kan sien nie. Wat is agter die “geestelike” sluiers besig om te gebeur, nie net nou nie, maar wat het in die verlede en sal in die toekoms gebeur. Die sin is ʼn objektiewe en subjektiewe genitief. Die objektiewe genitief beteken dat die hele Openbaring se objek Jesus Christus is. Net soos die Ou Testament wys na Christus so wys die hele boek van Openbaring na Jesus Christus. As Jesus na sy opstanding met die Emmausgangers praat bevestig Hy die Ou Testamentiese verwysings na Homself. Lukas 24:27 Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê. As jy Christus mis in Openbaring mis jy die totale betekenis en die totale openbaring van God. Die Skepping is deur Hom, die hede hou Hy in stand en die toekoms is tot Hom. Romeine 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid  vir ewig toe! Amen. Die subjektiewe genitief beteken weer dat die een wat die openbaring van God aan sy volgelinge gee is Jesus Christus. Hiervoor gebruik Hy ʼn engel om dit aan Johannes te openbaar.

Die Leser

Die boek kondig aan dat elkeen wat hierdie boek lees en bewaar geseënd sal wees. Bewaar beteken iemand wat dit deel van sy lewe maak en die opdragte van die brief uitvoer. As Jesus sê dat diegene wat Sy gebooie bewaar, Hom waarlik liefhet, is dit die onderhouding van die gebooie waarvan Hy praat. Johannes 14:21 Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak. Die Grieks vir geseënd is ʼn ware innerlike geluk. Gelowiges wat hulle oë Hemelwaarts rig sal mense wees wat werklik gelukkig sal wees en alles in die regte perspektief sal sien. Jy sal as opregte leser van Openbaring as te ware agter die sluiers van die fisiese wêreld kan “sien” en hierdie perspektief sal die bron wees van jou vrede en geluk. As jy ʼn liefde het vir die wêreld en die wêreldse dinge kan jy nie die liefde van die Vader in jou hê nie. 1Johannes 2:15  Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. ʼn Hemelse uitkyk verander jou persepsies aangaande alles wat op aarde plaasvind. Jy het klaar die slothoofstuk van die wêreld gelees en niks wat tussen die eerste hoofstuk en die laaste hoofstuk plaasvind kan jou skok of ontstel nie. Jy ken die “oorwinnaar” en hoe die oorwinning gaan lyk. Jy weet wat die vyand en sy magte sal probeer en dat alles tevergeefs sal wees. Indien jy die Een wat jy liefhet en wat jou liefhet kan sien as die oorwinnaar van die wêreld sal dit beslis jou perspektief verander! Het jy hierdie vrede in jou alledaagse lewe?

Genade en vrede

God belowe aan sy Kerk genade en vrede. Dit is ʼn seëngroet wat God gee aan elke gemeente waarvoor in die Nuwe Testament geskrywe word. Hierdie genade en vrede kom van ʼn Persoon en is gesetel in ʼn Persoon. Die Een wat hierdie vrede en genade skenk aan sy volgelinge is die “Hy wat is, Hy wat was, Hy wat kom”. Hierdie aanhaling verwys na God se openbaring aan Moses in die brandende bos. Eksodus 3:14 God sê toe vir Moses: Ek Is Wie Ek Is. Hy sê toe ook: So moet jy die Israeliete antwoord, Ek Is het my na julle gestuur. Hy is die lewende God wat nooit verander nie. Hy was gister, is vandag en sal more by jou wees.  Hy word daarom in Openbaring beskryf as die God wat wandel tussen die sewe kandelare, naamlik die sewe gemeentes. Hy is die God wat belowe dat Hy ons nooit in die steek sal laat of verlaat nie. Hebreërs 13:5 Julle leefwyse moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie.

Hy is ook die God wat was. Ons kan terug gaan na die Ou Testament en kyk na God se heerskappy en Sy werk met Sy volk en individue en besef dat Hy vandag nog steeds dieselfde God is. Jesaja 41:4 Wie het dit bewerk en uitgevoer, terwyl Hy van die begin af die geslagte roep? Ek, die Here, was die eerste, en by die laaste geslagte sal Ek steeds daar wees. Sy besluite is dieselfde, sy karaktertrekke is dieselfde en niks van Hom het verander of sal verander nie. Numeri 23:19 God is nie ‘n man, dat Hy sou lieg nie, en nie ‘n mensekind, dat Hy van plan  sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, sou Hy praat en dit nie gestand  doen nie? Daarom weet ons ook dat Hy die God is wat sal kom. By Sy Hemelvaart verkondig die engele aan die apostels wat gesien het hoe hulle leermeester van hulle weggeneem is. Handelinge 1:10-11 Terwyl hulle, soos Hy weggaan, stip na die hemel bly kyk, staan daar meteens twee mans in wit klere by hulle en vra: Galileërs, waarom staan en staar julle na die hemel? Hierdie Jesus, wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het. Sy beloftes is duidelik aan ons gekommunikeer en Hy is die onveranderlike God wat Sy beloftes hou. Iets wat onveranderlik is, is iets wat standvastig is, iets waarop jy kan reken, kan vertrou en jouself aan kan anker. Verstaan jy waarom die gemeente gegroet word met genade en vrede. Is dit ʼn realiteit in jou alledaagse lewe? Het jy hierdie vrede en ervaar jy die genade wat aan jou bewys is deur hierdie Lewende God, die Een wat die sluier lig en aan jou Homself en sodoende die verlede, hede en toekoms, openbaar. Kan jy saam met die Psalmdigter sê Kyk, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie  en Hy slaap nie. Psalms 121:4.

Die getal sewe

Die getal sewe gaan baie keer voorkom in die Openbaring brief. In vers 4 word dit twee keer gebruik. Openbaring 1:4 Johannes, aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is. Hierdie getal word ook baie keer in die Ou Testament gebruik. In sommige gevalle wys dit na ʼn werklike kwantitatiewe sewe, maar as  ʼn getal wat die volledige aandui, verwys dit dan dikwels ook na ʼn geheel.  Ander kere het dit net ʼn simboliese betekenis. In hierdie vers kry ons beide van hierdie gebruike. Ons het die sewe gemeentes in Asië wat werklik bestaan het en aan wie daar geskrywe is, maar hulle verteenwoordig as geheel ook alle kerke in Asië en so ook alle kerke deur die eeue. Daarteenoor het ons die verwysing na die “sewe Geeste” wat net ʼn simboliese getal is wat wys na die Heilige Gees as die volmaakte Gees en God self. Ons vind die getal sewe saam met die Heilige Gees ook in Openbaring 5:6. Openbaring 5:6 En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, ‘n Lam, soos een wat geslag is, sien staan. Hy het sewe horings en sewe oë gehad – die sewe Geeste van God – wat oor die hele aarde heen uitgestuur is. God het alles in sewe dae gemaak en toe gerus, aangesien alles goed geskape was. Sewe is dus ʼn volmaakte en perfekte getal.

Christus

Vir die vroeë kerk, sowel as die kerk deur alle eeue, moes die titels waarmee Christus aan ons geopenbaar word ʼn wonderlike troos gewees het. Hoe Hy beskrywe word:  

1) Hy is die getroue getuie. 1 Timoteus 6:13 Ek beveel jou voor God, wat aan alles lewe gee, en Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius Pilatus gelewer het. Hy was die eerste wat sy lewe opgegee as ʼn getroue getuie. Die kerk kan na Hom as voorbeeld kyk en weet wat dit beteken om waarlik getrou te wees in hulle getuienis aan die wêreld en die prys wat betaal is. So word Antipas ook deur Christus ʼn getroue getuie genoem. Openbaring 2:13 Ek weet waar jy woon, daar waar die troon van Satan is. Jy hou egter aan my Naam vas. Jy het selfs nie jou geloof in My verloën nie, in die dae toe Antipas, my betroubare getuie, doodgemaak is daar by julle, waar die Satan woon.

2) Hy is die eersgeborene uit die dood. Die Kerk hoef nooit die dood te vrees nie, aangesien Christus ons voorloper is en die dood klaar oorwin het. 1Korinthiërs 15:20 Maar nou, Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes.

3) Hy is heerser oor die konings van die aarde. Hierdie is ʼn verwysing na Psalm 89. Psalms 89:28 Ek sal hom dan eersgeborene maak, die hoogste van die konings van die aarde.

Wat ʼn wonderlike troos vir die kerk is dit nie. Hy het al klaar oorwinning en heerskappy oor alle koninkryke en heersers. Dit laat my dink aan die woord “kadaweriese spasmas”. Die woord word gebruik vir die bewegings wat ʼn dier maak nadat hy alreeds dood is. Die koninkryke en heersers saam met die Satan is klaar oorwin en die nekslag is toegedien, al wat nog plaasvind is die laaste nadoodse bewegings.

Dan gaan die skrywer oor in ʼn doksologie(lofprysing) aan hierdie grootte God. Hy noem drie werke wat Christus gedoen het:

1) Hy het ons lief.

2) Hy het ons bevry van sonde. Deur die verwysing na Sy bloed as die bloed van die lam wat gebruik is in die bevryding van Israel van slawerny, uit Egipte, deur die bloed van die lam wat geslag is. Die sonde het nie meer heerskappy oor ons nie. 1 Johannes 3:9 Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is. Die woord vir sonde in die Grieks is in die infinitief, wat beteken ʼn persoon wat aanhou met sy sonde. Daar is dus geen berou en belydenis wat plaasvind nie. So ʼn persoon kan nie uit God gebore wees nie. Dit is nie die saad van God wat in hierdie persoon is nie maar wel die saad van die Satan.

3) Ons ʼn Koninkryk en priesters vir God gemaak. Hierdie gedagte vind sy oorsprong ook in die Ou Testament. In Eksodus 19 herinner God Israel dat hulle afgesonderd is vir Hom en sy eiendom is, maar dat hulle missie is om ʼn koninkryk en priesters te wees. Eksodus 19:6 Vir My sal julle ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die Israeliete moet oordra. Dit word ook aangehaal en bevestig deur Petrus dat dit nou vir elke gelowige is wat ingeënt is in die olyfboom van Israel. 1 Petrus 2:9 Julle, egter, is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige nasie, ‘n volk wat aan God behoort, sodat julle die deugde kan verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig. Is ons werklik nou alreeds priesters en konings? Om priesters te wees verstaan ons, aangesien ons in die allerheiligste wandel en daagliks met God in gesprek kan wees en ook deur gebed kan intree vir ander. Die koning gedeelte word die meeste vrae oor gevra. Baie wonder of dit slegs eendag sal wees. Die Grieks is duidelik dat dit iets is wat ons alreeds is. Kyk wat word vir ons vertel in Efesiërs. Efesiërs 2:6 Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel. Deur die Nuwe Testament word aan die gelowige bevestig dat die koninkryk van God tweeledig is – ʼn alreeds en ʼn nog nie. Dit is alreeds waar, maar die volheid daarvan sal ons eers in die Ewigheid ervaar. Ons heers dus alreeds, maar nie in alle volheid nie. Dit wat vir ons belowe is sien ons nog nie, maar gryp dit in geloof en leef daarin in geloof ten spyte van vervolging en bespotting in hierdie wêreld.

Slot

God het alle magte en kragte onder Christus se voete geplaas al sien ons dit nie nou alreeds nie. Hebreërs 2:8 U het alles onder sy voete  gestel. Deur alles aan hom te onderwerp, het Hy immers niks oorgeslaan wat nie aan hom onderwerp is nie. Nou sien ons egter nog nie dat alles aan hom onderwerp is nie. Die gelowige moet in geloof wandel. In geloof sien ons wat die wêreld nie sien nie. Dit is dan ook wat Openbaring wil doen. Ons geestelike oë word verhelder deur die Woord en ons sien dit wat die wêreld nie kan sien nie. Deur die Openbaring word die sluier gelig na die geestelike ryk en ons sien ons Verlosser heers.

Lewer kommentaar