Gebed

Inleiding

In die eerste inskrywings het ons geleer van God se beloftes rakende die kinders van gelowige ouers. Die soewereiniteit van God is dit waaraan elke gelowige vashou in tye van swaarkry en van voorspoed. God is in beheer en Hy alleen bepaal die uitkoms van elke situasie. Daar is egter sekere opdragte wat duidelik vanuit God se Woord kom tot elke gelowige. God belowe en Hy vereis. As gelowiges moet ons Hom gehoorsaam en as gelowiges moet ons tot Hom bid. Ja, maar God het dan alreeds bepaal!? Dit is die spanning tussen God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid. Dit is twee bane van die treinspoor wat in ewigheid nooit mekaar sal kruis nie, maar waartussen ons as gelowiges veilig is. In die laaste twee inskrywings het ons dan ook klem gelê op die mens se verantwoordelikheid, die moets en die moenies – alles afhanklik  van die krag van God. Ons gaan dan ook verder met die ouers se verantwoordelikheid, nl. om vir ons kinders te bid en hierin is Job vir ons ʼn voorbeeld.

Agtergrond

Job het in die land Us gewoon. Hierdie man lewe volgens alle aanduidings in die tydperk van die aartsvaders, nl. Abraham, Isak en Jakob. Die rede waarom hierdie belangrik is sal baie duidelik na vore kom wanneer ons kyk na Job se voorbeeld in die grootmaak van sy kinders. Die skrywer van Job begin die verhaal om ons van hierdie man se godvresendheid te vertel. Job 1:1  Daar was ‘n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad. Baie keer vergeet ons dat hierdie man ʼn man was wat voor die uitstorting van die Heilige Gees, geleef het. Hy was dus nie soos ons, as gelowiges vandag, gevul met die Heilige Gees nie. As gelowiges is ons vandag soveel meer geseënd en oorlaai deur God a.g.v. die inwoning van die Heilige Gees. Sê die Bybel nie tereg dat ons as Gees vervulde gelowiges deur die Gees in staat gestel word om nie net God se bevele na te kom nie, maar ook deur Hom die begeerte ontvang om dit na te kom. Filippense 2:13  want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. Hoeveel te meer as die van die Ou Testamentiese mens moet daar van ons die getuienis wees dat ons manne en vroue is wat vroom en opreg en godvresend is en afwyk van die kwaad. Nie net was dit die skrywer onder leiding van die Heilige Gees se getuienis van Job nie, maar ook God is begerig om aan die Satan van hierdie man te getuig. Job 1:8  En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad. Ons as lesers ervaar ʼn opgewondenheid in God as Hy hierdie man aan die Satan wil voorhou as iemand wat Hom waarlik dien. Die interessante van hierdie verhaal is dat hierdie man se godvresendheid en vroom lewe vir ons in die verhaal gedemonstreer word ook in die grootmaak van sy kinders.

Vrede tussen broers

Daar word vir ons vertel dat die sewe seuns van Job al om die beurt feeste gehou het by hulle huise. Elkeen het al sy eie huis gehad en sekerlik hul eie huishoudings. Hierdie broers het dan by die feesgeleentheid ook hulle susters genooi. Dit is dalk nie iets waaraan jy al ooit gedink het nie, of dalk het die idee van feesgeleenthede jou laat dink dat hierdie kinders wêreld was en plesier nagejaag het. Die feit dat tien kinders egter mekaar se teenwoordigheid geniet het en saam gekuier het, moet egter vir ons ʼn ander prentjie skets. Job is onbewus van enige openbare sonde wat hulle gedoen het, terwyl dit duidelik is dat hul geestelike welvaart prioriteit nommer een by hom was.  As ons nou in die lig hiervan kyk na die vrede wat tussen hulle was en hoe graag hulle wou hê dat al die broers en susters saam sou kuier,  dan kan ons aflei hoe hierdie kinders grootgeword het in hulle ouerhuis. Die Psalmdigter beskrywe dit as goed as broers so saam kan lewe in vrede. Psalm 133:1-3  ‘n Bedevaartslied. Van Dawid. Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon! Dit is soos die kosbare olie op die hoof, wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop op die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion; want daar gebied die HERE die seën, die lewe tot in ewigheid! Dit is tog belangrik om net hier op te merk dat dit beslis nie net oor die broers en suster in ʼn vleeslike familie gaan nie, maar beslis ook moet geld tussen geestelike broers en susters. Hierdie seën, sê die Psalmdigter, is ʼn seën wat van God af kom. Dit is dan ook Christus se gebed aan sy Vader voor sy kruisiging dat dit so sal wees tussen sy volgelinge. Johannes 17:20-21  Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo—dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Daar kan geen groter klad teen die Kerk wees as wanneer twee gelowiges nie met mekaar in liefde kan saamleef en werk nie. Dit is waarom hierdie getuienis van Job se kinders so ʼn wonderlike getuienis is van hoe hierdie man sy kinders groot gemaak het. Net soos in die Kerk, het kinders in die ouerhuis nodig om te leer om mekaar lief te hê en mekaar te vergewe. Hier is die beste leerskool vir die res van jou lewe. Daar is geen plek, behalwe in jou gesin, waar jy vir ongeveer 18 jaar so intiem met ander verkeer nie. Hier word ek geleer om te dien, ander te respekteer, nederig te wees en ander te help soos op geen ander plek nie. Hier kom ek agter dat selfs mense wat in dieselfde huis grootword verskillende persoonlikhede het en individue is wat uiteenlopende belangstellings het. As dit reg bestuur word kan kinders leer om mekaar te waardeer en te ondersteun eerder as om in ʼn konstante struweling te wees. Ouers moet in hul gesin ʼn veilige hawe skep, waar elke kind gerespekteer en gewaardeer voel. Konflik moet hanteer en nie vermy word nie, deur openlik en in liefde met mekaar te praat eerder as om probleme net onder die mat in te vee. Een van die wonderlikste dinge om te weet is dat my broers en susters my sal ondersteun, wanneer ander my dalk sal spot of verkleineer. Daar moet ʼn goue reël wees in elke huis, dat binne die huis ons kan verskil, maar daar buite is ons ʼn verenigde front. Jy praat nie lelik van jou broer of suster nie! Hoewel daar nie veel uitgebrei word oor elke individu in Job se familie nie, wys die Skrif dat daar in Job se gesin so ʼn eensgesindheid was.

Bekommernis

Job was ʼn goddelike man wat bekommerd was oor sy kinders se groei in die Here. Die Woord vertel ons dat Job elke keer na sy kinders se feesmaal ʼn boodskap na hulle gestuur het dat hulle hulself moet heilig en dan het hy vir elkeen ʼn brandoffer gebring. Ons moet onthou dat hierdie kinders nou al volgens die Skrif die ouerhuis verlaat het. Dit aksentueer net soveel meer die feit dat Job se grootste bekommernis hulle geestelike lewens was. Hierdie was duidelik ook die gewoonte terwyl hulle nog in sy huis grootgeword het. Is jou grootste bekommernis jou kinders se geestelike groei of is dit hul finansiële welstand en suksesvolle toekoms?

Die oproep om hulle voor God te heilig vind in die vroeë oggendure plaas. As jy op ʼn plaas grootgeword het weet jy hoe baie dinge in die oggendure moet plaasvind wat belangrik is en tog was die roetine in Job se huis dat die heel belangrikste ding in die oggend is om jou lewe voor God te heilig. Die heiliging het deur die bring van ʼn offer plaasgevind. Van die vroegste tye, voor die wette van Moses, het God dit al duidelik gemaak dat daar ʼn offer gebring moes word vir die sonde van die mens. Ons sien al in die verhaal van Kain en Abel dat hulle offers aan God moes bring en dat God die bloed van ʼn dier vereis het. Ons sien die bring van offers ook in Noag en die aartsvaders se lewens. Job het vir elke kind ʼn offer gebring. Voor die wette van Moses het elke ouer as priester van sy huishouding opgetree en namens hulle offers gebring. Dit is wonderlik dat ons in Christus as gelowiges nou ook heilig is en deur sy bloed gewas is en dat ons elkeen ook nou priesters is. Openbaring 1:5-6 en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. In die gesin tree ʼn man en vrou vir mekaar en vir hul kinders in by God. As ouers is ons dus priesters wat intree vir ons kinders. Ons moet ook soos Job die dagbreek ingaan deur individueel te bid vir elke kind. Pleit jy elke dag voor God vir jou kinders? Hiervan is Job vir ons ʼn getuie. Ja selfs al is hulle gered, bid jy dat hulle sal groei in hul verhouding en kennis van God, dat hulle heilig sal lewe en sal vlug vir die sonde, dat God hulle van die verleidelikheid van hierdie wêreld sal bewaar en hul sal gebruik as getuies vir Hom? Bid jy dat God deur hul lewens verheerlik en geëer sal word?

Verhouding met God

Job was nie bewus van enige sonde in sy kinders of dat hulle êrens van God afgewyk het nie. Die Skrif sê nie dat Job by God ingetree het of aan Hom offers gebring het, omdat hulle goddelose lewens gelei het nie. Die teks sê dat Job dit gedoen het, want dalk het hulle iets verkeerde gedink in hulle harte en sodoende gesondig. Salomo skrywe in Spreuke dat hy bid dat God hom nie te veel oorvloed of gebrek in sy fisiese behoeftes sal gee dat hy daarom God sou vergeet nie. Spreuke 30:9  dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie. Ons bid dikwels vir ons kinders se beroep of finansiële sukses, maar bid ons vir hul geestelike welvaart. Dit is sekerlik normaal om te wil sien dat ons kinders in hierdie wêreld suksesvol is, maar meer belangrik is dat hulle verhouding met God moet reg wees. Sou jy jou kinders moeilikheid en selfs teëspoed toebid as jy weet dat dit hulle nader aan God sal bring? Miskien het my kinders te veel en dink hulle dat hulle dit uit hulle eie mag verwerf het? Dit is dan ook waarteen God waarsku as die Israeliete in die beloofde land sou gaan en dit met hulle goed sou gaan. Deuteronomium 8:11-14  Neem jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon, en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder—en jou hart hom dan verhef, dat jy die HERE jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Miskien moet ons gebede eerder wees: “Here wat u ook al vir my kinders beplan is goed. My grootste begeerte is net dat hulle in U sal groei, af sal wyk van enige kwaad en manne en vroue sal wees wat godvresend sal leef, soos wat ek self ook leef”

God of mense

Wat vir my verder wonderlik is wanneer Job vir moontlike sonde in sy kinders se harte intree, is dat dit hier gaan oor wat God dink en nie oor wat mense sê nie. Ouers bid baiekeer vir hul kinders met die motief dat kinders hulle tog nie in die skande moet steek by mense nie. My kind moet tog nie sodanige sonde doen dat dit bekend word en mense daaroor praat nie. Ons begeerte moet eerstens wees om die sonde wat hier binne in ons hart aangaan voor God te bring en dan ook die harte van my kinders voor God te lê. Hy ken dit en die Gees weet hoe om hulle daarvan te oortuig en te bring by volle belydenis. Ons kan soos die psalmdigter God smeek om Sy diepste wese aan ons te openbaar en ons sondes aan ons bekend te maak. Psalm 139:23-24 Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! Ons lewe nie vroom lewens na buite omdat ons hunker na die lofsange van ander nie, maar ons hunker na God se goeie getuienis oor ons en ons gesin se lewens – ‘n getuienis soos die aangaande Job. Hoe lyk ʼn pa en ma wat hierdie begeertes in hulle gebedslewens het? Dit is ouers wat kinders grootmaak om hul harte voor God bloot te lê, sodat daar niks sal skuil wat nie aanneemlik vir God sal wees nie. As hierdie die gebed vir my kinders se lewens is, soos wat dit Job sin was vir sy kinders en sekerlik ook vir sy eie lewe, sal dit duidelik word in God se getuienis van jou gesin se lewe.

Slot

Sal God op hierdie stadium van jou lewe hierdie getuienis oor jou lewer: “[Jou naam] is ʼn man/vrou van God wat gevul is met die krag van die Heilige Gees?” Is jou lewe totaal aan Hom toegewy en is Sy begeertes vir jou lewe ook jou eie begeertes? Is jou grootste verlange vir jou gesin dat hulle Goddelike lewens sal lei en vroom en godvresend sal lewe? Hoe wonderlik sal dit nie op ons ore klink die dag wanneer ons voor God staan en Hy hierdie getuienis, dat ons goeie en getroue diensknegte was, oor ons aflê nie. Mattheus 25:23  Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. Hierdie woord vir dienskneg is slaaf in die Grieks en in die Hebreeus in Job verwys God ook na Job as Sy slaaf en nie na kneg of dienskneg soos in die vertalings nie.  Job 1:8  En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg (slaaf) Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad. ʼn Slaaf het net een roeping en doel in sy/haar lewe en dit is om te doen wat die meester van hulle vereis. Bid vir jou kinders.