Sondag 42 Is jy ‘n dief?

on

Vraag 110: Wat verbied God in die agste gebod? Antwoord: God verbied nie slegs die diefstal en roof wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry. Dit kan gebeur met geweld of ‘n skyn van reg, soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, geld, deur woeker of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid en alle misbruik en verkwisting van sy gawes.

Vraag 111: Maar wat gebied God jou in hierdie gebod? Antwoord: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel. Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help.

Inleiding

Toe ons kinders was, was diefstal soos een van daardie GROOT sondes. Iemand was steel is ‘n dief en ’n dief was ’n slegte persoon. Dit was soos een van daardie goue reëls wat jy leer as kind. Net so belangrik soos “asseblief” en “dankie” was die wet “jy vat nie iemand anders se goed nie”. Dit was swart en wit – duidelik. Ongelukkig is die mens meesters as die kom by maniere om wette te buig en swart grys te maak. Hierdie inskrywing gaan poog om jou weer terug te bring by die punt waar jy besef wat diefstal is. Die oorsprong van diefstal is ontevredenheid met jou omstandighede. Ontevredenheid is weer gebore uit ons ongeloof in God. Hy wat die Voorsiener is, kan nie voorsien nie. Hy wat Regverdig gee aan wie Hy wil, is onregverdig teenoor my wat nie dieselfde as iemand anders gekry het nie.

Diefstal in die Woord

Ons dink aan ’n dief as iemand wat inbreek in die nag of in ’n winkel iets in sy/haar sak glip sonder om daarvoor te betaal. Die Woord van God beskryf ’n dief egter as veel meer as dit. Vandag steel mense sommerso vanuit hul eie huise. Hulle steel programmatuur sonder om daarvoor te betaal. Hy laai musiek en flieks af sonder om te betaal. Baie maak die verskoning dat die musikante en die industrieë alreeds baie geld maak en daarom is dit nie so erg as ek van hulle steel nie. Diefstal se straf is egter baie duidelik in die Skrif. 1Korintiers 6:10  Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. Hoe maklik kry ons nie verskonings vir ons sondes nie. Of ons versag diefstal deur te sê iemand is ’n kleptomaan en hy/sy kan dit nie help nie. Sonde van die Bybel word vandag baie maklik as verslawings en as genetiese oorerwing afgemaak. Ons is almal as gevolg van Adam in sonde gebore, so as dít die genetiese oordrag is waarvan gepraat word stem ek saam.

Goeie besigheid

Baie wat vandag hulle besigheidspraktyke beskrywe as goeie besigheid, is individue wat eintlik in hulle manier van besigheid doen, van ander steel. Johannes die Doper waarsku soldate wat na hom toe kom dat hulle niks van ander moes afpers nie. Lukas 3:14  En die soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy. Ons kan op baie maniere mense afpers. Dit vind vandag plaas deur mense wat hul in finansiële moeilikheid bevind uit te buit deur hoë rente koerse of deur hulle ’n laer prys te betaal as wat iets werd is, net omdat jy weet hulle is in die nood om dit te verkoop. Ek onthou hoe ’n kleinneef van my, wat ’n ongelowige was, gesê het dat hy nie kon glo dat mense wat saam in die kerk is nie kon wag dat die een se plaas op ’n bankrot veiling moes kom, sodat hulle dit vir ’n appel en ui kon koop nie. Dit het natuurlik niks met goeie besigheidspraktyke uit te waai nie en is niks anders as diefstal nie.

Hoekom help jy nie eerder die persoon sodat hy kan aangaan om vir sy familie te sorg eerder as om soos ’n aasvoël op sy dood te wag. Baie keer is dit juis hierdie dinge waaraan die gelowiges in die kerk hulle skuldig maak en het ons nodig om weer, dit wat ons vandag as normaal aanvaar,  deur die oë van God te sien. God spreek Hom ten sterkste uit teen die leiers wat geld gehad het en ander uitgebuit het. Eze 45:9  So sê die Here HERE: Dit is nou genoeg, o vorste van Israel! Verwyder geweld en verdrukking, en doen reg en geregtigheid; hou op om my volk uit hulle besittings te verdring, spreek die Here HERE.  Hoe maklik word ons nie deur die wêreld gekondisioneer nie. In alles moet ons die regte weegskaal gebruik. Spreuke 11:1  ‘n Valse weegskaal is vir die HERE ‘n gruwel, maar in ‘n volle gewig het Hy behae. Dit het natuurlik nie net met die weeg van goed te make nie, maar dat alles ’n bepaalde gewig het, waarde het en dat ons in ooreenstemming daarvoor vergoed. Esegiel 45:10  Julle moet ‘n regte weegskaal hê en ‘n regte efa en ‘n regte bat. Is dit die kenmerk van jou lewe. Die bekende vers in Spreuke 20:14 beeld dit ook mooi uit. Spreuke 20:14 Sleg, sleg! sê die koper; maar as hy wegloop, beroem hy hom. Die koper sal jou vertel hoe swak jou produk is sodat hy/sy dit teen ’n goedkoop prys kan koop, net om weg te stap met winskoop. Wees eerlik in jou besigheid.

Woekerwins

Hoë rente was beskou as woeker en is ten sterkste veroordeel in die Woord. In Psalm 15 vra die Psalmdigter “HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?” Psalm15:1 Hy antwoord dat een van die vereistes is dat so ’n persoon nie sy geld moet gee op woeker nie. Psalm 15:5  wat sy geld nie gee op woeker en geen omkoopgeskenk aanneem teen die onskuldige nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie. Woekerwins was rente wat jy vir ander gevra het op geld wat jy vir hulle geleen het. Dit is gewoonlik die arm man wat die ergste op hierdie manier uitgebyt word. Dink maar aan baie van vandag se sogenaamde “Cash loans”. God het sy volk opgeroep om die arm man te ondersteun. Levitikus 25:35 En as jou broer by jou verarm en agterraak, moet jy hom ondersteun, soos ‘n vreemdeling en bywoner, dat hy by jou kan lewe. Wat sou gebeur as mense geld kon leen sonder om rente te betaal. Hoe vinnig sal jy nie jou skuld kon terugbetaal nie. Dink wat sou gebeur as gelowiges op hierdie manier mekaar kon help. As jy wil weet waarom so baie Jode so ryk is, is een van die redes dat hulle nie mekaar rente vra nie. Sonder rente het jou besigheid net soveel meer potensiaal en geleentheid tot groei.

Gierigheid

Hoe ryk wil jy regtig wees? Wanneer is genoeg genoeg. Ek wil net weer ’n vers wat ek vroeër in die blog gebruik het net weer aanhaal. Lukas 3:14  En die soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy. Johannes die Doper roep die soldate op om tevrede te wees met hulle salaris. Wees tevrede met wat jy het. Paulus kon terug kyk oor sy lewe en sê dat hy geleer het om vergenoeg te wees in wat hy het. Filippense 4:11  Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek kan weet dat God in sy almag bepaal het wat ek behoort te hê en hierin is ek gerus. Dit beteken nie dat ek hiermee luiheid kan verdedig nie. Daarin is die Bybel ook duidelik. Nee, ek werk hard en doen my beste, asof vir die Here. Ek weet dat God in beheer is van die resultaat. Daar kan tye van oorvloed en tye van nood wees, maar in alle omstandighede weet ek dat Hy alles laat meewerk ten goede. Hierdie ten goede beteken dat ek sal groei in my geestelike lewe.

Gierigheid is nie dieselfde as rykdom nie. Nie alle mense wat ryk is, is gierig nie. Dit beteken God het aan jou ’n finansiële gawe gegee wat Hy wil gebruik tot uitbreiding van Sy koninkryk.

God kan jou rykdom gebruik om vir ander tot seën te wees. 1Timotheus 6:17-19 Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf. Miskien kan ek vir iemand ’n werksgeleentheid gee, sodat hy/sy vir hul familie kan sorg en nie hoef te steel nie. Eph 4:28  Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het. Wat gee groter vreugde as om ander te help? Leer Christus ons nie juis dit nie? Handelinge 20:35  Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.

Rentmeesters

Gelowiges moet harde werkers wees. Hulle moet hulle beste gee in hulle werk. Hulle moet hulle geld ook reg gebruik. Spreuke 23:20  Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal. Want ‘n drinker en ‘n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra. Mense wat te hoog lewe sal vind dat hulle geld en besittings baie vinnig sal verdwyn. Spreuke 21:20  ‘n Kosbare skat en olie is in die woning van die regverdige, maar ‘n dwase mens bring dit deur.  ’n Goeie werker is iemand wat aan sy werkgewer rekenskap kan gee van wat hulle gedoen het. As jy betaal word om iets te doen, maar jy speel die hele tyd op jou foon, steel jy van jou werkgewer en is jy nie ’n goeie werknemer nie. Dieselfde beginsel geld teenoor God. Jy is ’n rentmeester van wat Hy vir jou gegee het. As jy dit verkwis op onbelangrike dinge, steel jy van God.

Slot

Daar is nog so baie dinge wat mens onder die opskrif van steel kan sit. Ons steel mense se reputasie met ’n geskinder, ons steel iemand se erkenning as ons hul werk kopieer of idees steel. Ons steel soms mense se vreugde met ons houding en jaloesie. Wat God van ons as Sy kinders vra is dat ons anders as die wêreld sal wees, waar alles net om hulself en hul eie belange gaan. Mag ons doen dit wat die Kategismus soos mooi verwoord: “Bevorder die belange van jou naaste, waar jy kan en mag, en behandel hom soos jy wil hê dat hy jou moet behandel. Doen jou werk getrou, sodat jy die behoeftiges in hulle nood kan help.”