Sondag 38. Wat is so wonderlik aan Sondag?

Vraag 103: Wat gebied God in die vierde gebod?

Antwoord: God wil ten eerste dat die Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word. Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom om die Woord van God te hoor, die sakramente te gebruik, die Here openlik aan te roep en die Christelike liefdegawes te gee. Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe.

Inleiding

Die verskil tussen die Joodse Sabbat en die eerste dag van die week, of Sondag, waarop ons vandag as gelowiges bymekaarkom, is alreeds in vorige inskrywings behandel en ons gaan dit nie hier weer doen nie. Vraag 57-59 Die Sabbatdag As gelowiges aanvaar ons dat die Sabbatdag in Christus vervul is en ons nou Opstandingsdag vier, wat die eerste dag van die week is. Daarom gaan ons in hierdie inskrywing fokus op wat dan van ons verwag word, in die lig van die vierde gebod.

Opstandingsdag / Die dag van die Here

In die begin, na die uitstorting van die Heilige Gees, vind ons dat die vroeë kerk elke dag van die week bymekaargekom het. Handelinge 2:46  En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet. Tot sovêr as in Handelinge 19 vind ons nog steeds dat hulle op ’n daaglikse basis geleer is. Handelinge 19:9 Maar toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg, het hy van hulle weggegaan en die dissipels afsonderlik geneem en elke dag in die skool van ‘n sekere Tiránnus samesprekinge gehou. Vroeg in Handelinge 20 vind ons dat die gemeentes alreeds die gewoonte gehad het om bymekaar te kom op die eerste dag van die week. Handelinge 20:7  En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe. Die eerste dag van die week was die Sondag. Hierdie dag was ook bekend as die Dag van die Here. Openbaring 1:10  Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ‘n groot stem gehoor, soos van ‘n basuin… Die rede vir die naam is dat Christus op die eerste dag van die week opgestaan het. Hierdie dag was vir die gelowiges so belangrik dat selfs die gelowiges uit die Jode nie ’n probleem gehad om hierdie dag te vier nie, in teenstelling met ander gebruike wat hulle steeds wou hê die Christene uit die heidene moes nakom in hulle gemeenskap met mekaar. Handelinge 15:19-20  Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed. Ons moet verstaan dat die Sabbat ’n baie belangrike dag vir die Jode was en vir die Joodse gelowiges om ’n ander dag te vier as die Sabbat sê vir ons dat iets wonderliks moes gebeur het.

Wat was vir die gelowige belangrik om op hierdie dag na te kom en is steeds vir ons as gelowiges belangrik.  Eerstens was dat die kerk die plek sou wees waar die gemeente onderrig word in die Woord van die Here. Timotheus word deur Paulus herinner dat hy vas moes hou aan die dinge wat HY geleer en die Skrif van kleins af aan hom oorgedra is. 2Timotheus 3:14  Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Vir die vroeë Kerk was die samekoms van die gelowiges die hoogtepunt van die week.

 Net nog ‘n dag

Vir baie sogenaamde gelowiges is dit vandag net nog ’n dag. Hoekom? Miskien kan ek net hier noem hoe tragies dit is dat meeste kinders nie meer die heilige Skrif ken nie. Van die jongste tot die oudste word vandag meer vermaak as onderrig in die waarhede van die Skrif. Ander, wat wel onderrig word vanuit die Skrif, ervaar dit as dood en nie lekker nie. Miskien is die fout by die een wat dit oordra. Miskien is hy geestelik dood. Een ding is egter verseker: Die fout lê nie aan die kant van die Skrif nie! Psalm 40:10  Ek het ‘n blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering verkondig; kyk, my lippe bedwing ek nie. HERE, U weet dit.

Voorbereiding

’n Ander probleem is dat die meeste gelowiges nie voorbereid na die eredienste kom nie. Baie kom eers laat die Saterdagaand in die bed en baie keer omdat hulle flieks gekyk het wat hulle geensins voorberei het vir die erediens nie. Hulle het nie die Saterdagaand gebid en Bybel gelees en hulle versugting uitgespreek teenoor die Here, dat Hy hulle die volgende dag sal ontmoet deur die prediking nie. Hoe sal jy enigsins opgewonde kan wees as jy soos ’n uitgewaste lap op ’n Sondagmôre voel. Raak rustig, bid en lees die Woord en as jy wil ’n geestelike boek, gaan slaap vroeg en jy sal verbaas wees met watter afwagting jy by die erediens sal aankom.

Lering

Jy moet so opgelei word dat jy ook later ander weer sal kan oplei. 2Timotheus 2:2  en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer. Hoe tragies sal dit wees as jy na jare wat jy in die erediens is nie eers bekwaam is om ander op te lei nie. Hier weer mag die probleem lê by die een wat voorgaan in die gemeente. Miskien is hy nie geesvervuld of het dalk nie die gawe van lering nie. Jy moet egter onthou dat jy ’n verantwoordelikheid het om te sorg dat jy sowel as jou gesin geestelik groei in kennis van Sy Woord. As jy ervaar dat die probleem wel by die prediker is het jy nodig om uit te kom by ’n gemeente waar jy wel onderrig word en kan groei. Dit is belangrik dat jy en jou gesin geskool is in die Woord en ondersteun word deur ’n gemeenskap van gelowiges, want wanneer daar krisis tye kom, is die kennis van God vanuit Sy woord die anker waaraan jy moet vashou en die gemeenskap van gelowiges is die mense wat jou arms sal ophou en jou ondersteun in daad en gebed. As jy deur swak bywoning nie daardie kennis en ondersteuning het nie gaan jy swaarkry.

Lofprysing en gemeenskap van gelowiges

Vêrder kom ons saam om God te loof en te prys saam met ander gelowiges. Psalm 68:27  Loof God, die Here, in die vergaderinge, julle wat is uit die fontein van Israel! Die gemeente is verder die plek waar ons die Nagmaal vier saam met ander gelowiges. Handelinge 2:42  En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. Die gemeente is die plek waar ons in liefde na mekaar omsien en mekaar bedien soos ons deur Christus bedien word.

Rus (Slot)

Laastens wil die Heidelbergse belydenis ons daaraan herinner dat as gelowiges ons alreeds in ‘n volmaakte rus is met God. Dit is natuurlik moontlik gemaak deur die bloed van Jesus Christus. In Hom het ons rus met die Vader en toegang tot die Vader. In ons wandeling saam met Hom in die Allerheiligste moet ons mekaar daaraan herinner dat ons nou ook moet rus van ons bose werke. Die gelowige kan nie wandel in God se teenwoordigheid en maar net voortgaan met sy/haar lewe van sonde nie. Romeine 6:1-2  Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Die vashou aan ons sonde, sonder om dit te bely en te laat staan, steel nie net ons rus nie, maar is ook ’n bewys dat ons nie gelowiges is nie. 1 Johannes 2:3-4  En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. 

Wanneer ons Sondag kerk toe gaan, gaan ons voorbereid om te leer en te ontvang uit Sy Woord. Ons gaan om weer geanker te word in God se beloftes en ondersteun te word deur familie in Christus. Ons gaan om opnuut ons seëninge te tel en Hom te loof en prys vir Sy goedheid in ons en ons mede gelowiges se lewens. Ons gaan om te rus van ons besige lewens en te herbesin oor wat werklik belangrik is. Ons bely ons sonde opnuut en ervaar rus van ons gewete.

Ten slotte: bogenoemde doen ons elke dag. Die Sabbat rus begin alreeds in dat ons rus van ons bose werke – ons veg teen die sonde en bely dit as ons val. Elke dag as ek opstaan herdenk ek Sy opstanding uit die dood en staan ek saam met Hom op, bely my sonde en leef in Sy rus. Tot die dag wat ek nie meer fisies opstaan nie, maar opstaan in die Ewige Lewe – die Ewige Rus  – wat nou alreeds vir ons bewerk is.