Sondag 34. Wie is hierdie God?

Vraag 94: Wat gebied God in die eerste gebod?

Antwoord: Ek moet ter wille van my siele heil en saligheid alle afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van heiliges of ander skepsels vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige ware God reg leer ken, Hom alleen vertrou, my slegs aan Hom met alle nederigheid en geduld onderwerp en van Hom alleen alle goeie dinge verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê, vrees en eer. Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel.

Inleiding

Die meeste mense sal vinnig getuig dat hierdie nie een van die gebooie is waarmee hulle sukkel nie. Afgodsdiens is mos dit wat mense in ander gelowe doen. Ons aanbid verseker nie mensgemaakte beelde nie, beoefen nie towery  of waarsêery nie en vermy mense wat hulle met “sterre voorspellings” besig hou! Maar is jy seker die god wat jy aanbid is die ware Een? Is jy seker die god wat jy aanbid is nie ’n mensgemaakte skepsel nie? Of is jy soos die Israeliete wat in die woestyn ’n goue kalf maak en hom dan noem “Die God wat ons uit Egipte land uitgelei het.” As iemand my sou beskryf met gelaatstrekke en eienskappe wat glad nie eie aan my is nie, sal iemand wat my ken dadelik weet, dat die persoon wat my beskryf my nie ken nie. So is dit dan die geval met baie mense wat bely dat hulle in Jesus glo. Hul lewens getuig daarvan dat hulle hom nie ken nie en dat hulle dus ’n afgod, hul eie maaksel, aanbid.

Ek moet God leer ken

Hier wil ek spesifiek praat oor ‘n  tipe afgodery wat in baie kerke beoefen word. Die Heidelbergse belydenis sê dat as ons die eerste gebod wil nakom ons die enige ware God reg moet leer ken. Ken jy Hom waarlik? So baie ken Hom glad nie en daarom, as hulle deur krisisse gaan, ontdek hulle dat hulle nooit die ware God aanbid het en geken het nie. Johannes 17:3  En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het. Christus het die Vader aan ons geopenbaar. Daarom is dit nodig dat as ons oor God praat, ons altyd praat vanuit wat die Skrif ons leer. Niemand van ons kan vanuit ons eie denke God verstaan nie. Dit sou wees soos ’n mier wat aan ander miere wil verduidelik wat en wie die mens is. Daarom was dit nodig dat God Homself aan ons moes openbaar. Met ons denke sou ons nooit by Hom kon uitkom en Hom kon verstaan nie. Hy is die Gans Andere.  Hoe skrikwekkend dat so baie dink dat hulle God kan verduidelik of definieer vanuit hulle tydelike en beperkte denke. Elke woord rakende God moet vanuit die Woord bevestig word. Hy is die God wat nooit verander nie. Jakobus 1:17  Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie. Hy is nie soos die mens nie. Hy sal nooit op ’n dag kom en sê dat dit wat Hy gister gedink het nie meer reg is nie. Hy kan nooit iets nuuts leer nie.  Numeri 23:19  God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie? Ons moet swyg waar God swyg en praat waar God se Woord praat. Baie dink dit is arrogant om te spreek” “So sê die Here, Here.” Sekerlik is dit nie arrogant om dit te spreek wat God eerste gespreek het nie! God roep ons op om in hierdie wêreld juis te spreek wat Hy gespreek het. Esegiël 33:7  En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. Hierdie waarskuwing vir Esegiël is ook aan elkeen wat weet wat God se Woord sê. Ons moet nooit, in die goddelose tyd waarin ons leef, skaam kry om God aan die wêreld te openbaar volgens Sy eie openbaring nie. As ons in hierdie wêreld skaam is vir wie Hy is sal Hy Hom ook skaam vir ons op die oordeelsdag. Markus 8:38  Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele. Tog moet ons swyg oor dinge wat God nie aan ons geopenbaar het nie. Daar is dinge wat ’n misterie is. Dinge wat net te hoog is vir die denke van ’n tydelike wese. Ons moet nederig genoeg wees om te sê dat die Bybel nie altyd vir ons alles beantwoord of verklaar nie, maar die God wat ek ken is reg in alles wat Hy doen.  As God gedink het dit is nodig vir ons om iets te weet sal Hy dit aan ons openbaar. Indien Hy dit nie doen nie, is dit vir ons beswil. Dit moet vir jou genoeg wees.

Geloof is gelyk aan vertroue

Dit bring my by die gedagte dat ons as gelowiges, by die eerste gebod, ons vertroue in Hom alleen plaas. Die regte vertaling vir geloof is eintlik vertroue. Geloof het so afgewater geraak in die alledaagse taal dat dit geen betekenis meer het nie. Jakobus waarsku mense wat dink dat hulle geloof het dat hulle moet onthou “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.” Jakobus 2:19. Dit beteken niks dat jy iets bely nie. Dit is wat jou lewe sê wat belangrik is. Jy sê dat jy glo, maar as jy in die moeilikheid beland na wie hardloop jy eerste? Wie is jou eintlike anker in die lewe? Waar lê jou sekerheid? Ondersoek in wie jou vertroue is. God het geen behae in so ’n man/vrou wat hulle vertroue in iets anders as in Hom plaas nie. Jeremia 17:5  So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk. 

Nederigheid en geduld

As ons werklik die Here as enigste God wil dien, sal dit gepaard moet gaan met nederigheid. Die grootste probleem van die mens is dat hy/sy vol is van hom/haarself. Ons is soos die matryoshka poppies – daardie Russiese poppies wat jy oopmaak en dan is daar nog ’n identiese, maar kleiner weergawe, binne-in. En so kan jy elke poppie oopmaak om net nog ’n kleiner identiese poppie binne-in te kry. Ons is vol van die “eie ek.” Dit is waarom Jesus se oproep aan Sy volgelinge was om hulle kruise op te neem en Hom te volg. Alleen in die sterwe van jouself kan jy lewe vir die Een wat jou gemaak het. Hy alleen kan God wees. Hoogmoed maak dat ons sy weë bevraagteken en sy wysheid ignoreer ter wille van ons eie.  Ons het nodig om meer in verwondering te wees as om vrae te vra. Om vir onsself te sê: “God weet presies wat Hy doen, Hy is in beheer al het ek nie ’n idee of al verstaan ek nie waarom nie.” As Paulus in Romeine 9 praat oor God se uitverkiesing, sy verharding van Farao en sy barmhartigheid,  verwag hy dat die mens hierop sal vra: “Hoe kan iemand dan blameer word vir wat hy doen?” Hierop antwoord hy: “Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?” Dit is wat nederigheid beteken. Dit beteken dus nie om minder te word nie. Nee, dit beteken om te besef hoe nietig ek is. Ek sien dus myself soos ek werklik is, ’n wurm wat maar net ten dele weet. 1Korintiers 13:12  Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. Aan hierdie kant van die ewigheid moet ek in nederigheid my vertroue op Hom plaas. Natuurlik stap geduld hand aan hand met nederigheid. Ongeduld gaan altyd gepaard met hoogmoed. Ek raak ongeduldig met mense want, “weet hulle wie ek is?”, met situasies,  want ek verdien beter. “Hoekom ek? Hoekom nie jy nie”, is eerder die vraag. Ek kan alleen geduldig wees as ek besef dat ek eintlik nog slegter verdien. Die vraag van die gelowige en sy worsteling behoort gereeld te wees: “Here, waarom is U so goed vir my? Waarom het ek wat ek het? “ Kan jy ten spyte van omstandighede nog steeds dit sê? Sou jy dit kan sê as jy alles verloor of gediagnoseer word met ’n terminale siekte? Is Hy soos die Psalmdigter sê: “my grootste vreugde.” Psalm 4:8  Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is.

Slot

Ons koop dikwels namaaksels teen afslagpryse, net om uit te vind dat dit maar net nie dieselfde eienskappe en gehalte as die ware Jakob is nie. Moenie jouself probeer bluf nie. Net die ware God, soos geopenbaar in die Skrif, is God. Jou herskepping van god om aan jou vleeslike behoeftes te voorsien sal jou nie vrede en vreugde bring nie. God sal.

Miskien moet ons vra of jy Hom meer lief het as enige iets anders? As jy Hom het en Hom alleen, is dit vir jou voldoende? Is Hy jou alles en besef jy dat alles anders wat jy het tydelike, genadige guns is? Hy is ewig en ons is gemaak met die Ewige in gedagte. Ons sal alleen vreugde en vrede ervaar as die ewige in ons gedagtes ingegraveer is.

Indien jy hierdie gebod nakom, sal al die ander gebooie in plek val as ’n natuurlike uitvloeisel van jou kennis en liefde vir God. Jy moet die Here jou God alleen dien.